Christof van der Berg – “Waar lê die goud waarna ’n mens jou hele lewe lank soek?”
Ontvang van Christof van der Berg Music
“Waar lê die goud waarna ’n mens jou hele lewe lank soek?”
Vir pianis en storieverteller Christof van der Berg begin die storie toe hy as seuntjie een aand saam met sy pa op die soutplaas Witkraal na die sterre gelê en kyk het. Terwyl hulle besin oor uitgebrande sterre en konstellasies, vertel sy pa hom die verhaal van die laaste wilde leeu in die Vrystaat en van die goud wat iewers in Witkraal begrawe lê. Min het hy geweet dat daardie aand die begin sou wees van ’n reis wat hom op sestienjarige ouderdom na Hollywood sou neem, waar hy ’n internasionale klavierkompetisie wen, en later na stede en verhoë reg oor die wêreld.
Stories en Sterre is veel meer as net ’n musiekvertoning. Dit is ’n nostalgiese verhaal vol verwondering wat daar onder die sterre van die Vrystaatse soutplaas begin het en vandaar gelei het na glansryke wêreldstede, ontmoetings met onvergeetlike karakters en oomblikke wat sy lewe vir ewig sou verander. Tog bly daar daardie een vraag wat soos ’n goue draad deur alles loop: “Waar lê die goud regtig begrawe?”
Vrydagaand, 18 September, ná suksesvolle vertonings in beide Bloemfontein en Pretoria, bring Christof van der Berg dié aangrypende musiekteaterproduksie Stories en Sterre na Swagga Brewery in Bosbokstraat, Meyerton. Met sy kenmerkende basstem, virtuose klavierspel en eerlike storievertelling laat Van der Berg gehore lag, dink en met nuwe oë na hul eie soeke na goud kyk.
Dr Danie Langer, uitvoerende hoof, FAK beskryf sy ervaring van Christof se vertoning as volg:
“Ek het Christof van der Berg vir die eerste keer tydens ’n prestigegeleentheid in Bloemfontein gehoor, waar sy vertolking my diep beïndruk het. Sy stemkwaliteit, emosionele diepte en vermoë om deur musiek eg menslike stories te vertel, het my daartoe gelei om hom vir ‘n optrede by die Voortrekkermonument in Pretoria te nooi. Daardie aand het hy weereens bewys dat hy ’n buitengewone kunstenaar is – ’n samesmelting van tegniese uitnemendheid en ’n egte hart wat elkeen in die gehoor geraak het. In albei optredes het hy die gehoor se voete onder hulle uitgeslaan en ’n blywende indruk gelaat. Christof se werk is in elke opsig wêreldklas – gekenmerk deur styl, integriteit en besondere musikale vakmanskap.”
Meer inligting oor Christof en sy vertonings is beskikbaar op www.christofvanderberg.com en op Facebook by facebook.com/christof.vanderberg of by facebook.com/christofbergmusic
Artikels en berigte oor Christof kan gevind word op sy webblad onder PRESS en in die nuutste uitgawe van Naskrif, aanlyn beskikbaar by nskrywershuis.co.za/3d-flip-book/naskrif-nuutste-uitgawe/
Op Vrydagaand, 18 September 2026 tree Christof van der Berg by die Swagga Brewery op met sy gewilde vertoning “Stories en Sterre”. Die kaartjies kos R250.00 en die vertoning begin 19.00.